daar’s ‘n mier op my keyboard.
hy is verdwaal iewers
tussen enter, shift
en alt.
om hom rys regop, strak
die wolkekrabbers van my letters
en onder sy
voete: die donker niks (gleufies of gletsers
na ‘n dood wat deur geen taal be
-skryf kan word nie).
die mier is nie lui nie. dis ‘n bybelse mier. verbete
soek hy hiernatoe,
daarnatoe,
na ‘n uitkoms uit sy tronk van ivoortorings. in sy
kop beraam hy planne, teken hy diagramme
sodat hy miere wat na hom hier sal beland, kan waarsku.
maar dis alles tevergeefs.
nes hy sy weg baan by ctrl verby, en tussen esc en f1
sy vryheid vind,
vang ek, die woordsmid, hom
tus-
sen duim en voorvinger
en gooi hom gefrommeld oor my skouer om
die dag se
skeppingswerk te kan
begin

Leave a Reply