Ritueel van media en sy verbruikers
As ’n mens die teater binnestap, is ’n vrou, die bladuitlegkunstenaar of -redakteur, besig om oorlogfoto’s op die Reuters-webblad te koop. Kliek, kyk, koop?.?.?.? Een-een gooi sy die een bloederige foto van die oorlog in die Midde-Ooste na die ander in haar virtuele inkopiemandjie.
Só begin The shooting gallery, ’n ervaring wat ’n mens nie juis as toneelstuk of drama sou beskryf nie. Eintlik is daar nie begin of einde nie, want dié blik op die rol van die fotojoernalis, die media en die verbruikers van die media is ver van ’n storie. Met sy sterk postmodernistiese streep word elkeen van die gehoor se verwagtings deeglik ondermyn.

Die mantra van die koerantwese – “If it bleeds, it leads” – en die subtitel – “?’n digitale seremonie vir ’n oorlogfotograaf” – waarsku reeds dat Shooting gallery meer ritueel gaan wees as dokumentêre vertelling. Die reuse-skerm waarop die uitlegkunstenaar se koerantblaaie geprojekteer word tesame met foto- en video-materiaal word later die fokuspunt. Op einste skerm sien ’n mens vroeg in dié ervaring ’n tipiese SABC Simunye-advertensie wat ’n kerngesonde reënboognasie uitbeeld. Dié word mettertyd deur die bloed, derms, vrees en bomme ondermyn.
Kaganof is ’n lyk onder ’n kombers wat opgehys word teen die oorlogsbeelde as agterdoek. In ’n Tom Waits-agtige stem vertel hy hoe hy sy eie begrafnis bygewoon het. Later sien ’n mens ’n koerantberig oor ’n fotograaf wat dood is en dat selfmoord nie uitgesluit word nie. Uiteindelik bestaan daar nie verlede, hede en toekoms nie. Beelde versmelt tot flitsende oordaad, terwyl James Webb se klankbaan ’n onheilspellende dreunsang word vir ’n geslag wat vet gevoer is op MTV en CNN.
Die uitlegkunstenaar teug aan ’n glas wyn, eet haar toebroodjie en wend grimering aan, terwyl sy wag vir foto’s van die oorlogveld. Die fotograaf bel sy ma om te sê dié oorlog is “wonderlik vir my loopbaan” en dat hy dalk die voorblad van Time gaan haal. Later is hy bloedbesmeerd en voer die bladuitlegkunstenaar vir hom ’n skyfie appel en ’n bietjie wyn voordat sy sy mond en oë toeplak. Hy strompel die gehoor binne, terwyl hy “democracy” probeer skree.

(photo natalie payne)
En die gehoor? Almal staar hipnoties na die skerm vir nóg bloederige tonele wat met advertensies vir ’n toiletskoonmaakmiddel afgewissel word. ’n Resensie van dié ervaring word later deel van die bladuitleg met ’n foto van die gehoor daarnaas. Die kyker word deel van môre se nuus. Henegan stuur ’n e-pos aan die Markteater se publisiteitsbeampte om navraag te doen oor $400 wat nodig is vir die aankoop van ’n foto. En bedank die beampte vir die drankies vir die media ná die opening. “Ons hoop hulle geniet dit.” Ironies? Absurd? Of intellek-tuele masturbasie?
Selfs al sou ’n mens dit intellektuele masturbasie noem, sluit jy jouself (as kyker en gehoorlid) in. Al het jy nie “deelgeneem” nie, het jy gekyk en verbruik. Is Shooting gallery nie maar net ’n spieël nie? En wat sien j?? Daar is nie ’n einde nie en Henegan en Kaganof verskyn nie vir applous nie. Is applous enigsins nodig? Klap jy vir jouself hande as jy soggens in die spieël kyk? Of deins jy eerder terug uit vrees vir wat jy sien?

The shooting gallery is ’n verbysterende, grensverskuiwende teaterervaring. Dit bied ’n kreatiewe omgang met tradisionele teaterkonvensies sonder vooraf verpakte antwoorde of storievertelling. Dit is juis dié klas eksperimentele teater wat só broodnodig is in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf. ’n Mens is dankbaar dat die Nasionale Kunstefees dié soort werk ondersteun en dat Henegan en Kaganof die waagmoed aan die dag lê om gehore wakker te skud met ’n multi-media-produksie wat ook die geykte en voorspelbare ondermyn.
Mag dit ook ander verhoogpraktisyns inspireer om minder veilig te speel en veral by die Afrikaanse feeste kanse te waag. Mag dit die hele mediabedryf na die teater lok om hand in eie boesem te steek. The shooting gallery is nie vir sissies nie, hoewel die Suid-Afrikaanse jeug dit nie durf misloop nie. Wees verseker: Hier is genoeg materiaal om nagte later nog by ’n mens te spook. Wees gewaarsku!
kobus burger
this review originally appeared in beeld of 12 july 2006
August 3rd, 2006 at 10:08 pm
Ritueel van media en sy verbruikers
nice..