kagablog

November 2, 2006

Die Groot Stilte

Filed under: koos kombuis — ABRAXAS @ 6:43 pm

images1.jpeg
2006-11-01

Toe ek die nuus hoor van PW Botha se dood, was dit soos die geluid van ’n honderd watervalle in die verte.

En daarna: stilte.

Dit was anders as die dood van enigiemand anders wat ek geken het of van geweet het. Ek het gehoor daarvan toe Etienne van Heerden van LitNet vir my ’n sms stuur kort na sewe-uur die oggend. Ek was besig om ProNutro met melk te meng vir my sesjarige seun voor ek hom aantrek en na sy preprimêre klas toe neem. Pienk ProNutro.

En toe: die sms.

En toe: dis suising van baie water.

Dit was asof alles stil gaan staan het op daardie oomblik, asof alles wat ek is, wat ek glo, en waarvoor ek gewerk het, alles om my, my huis en my tuin en my stoele en my TV en my computer en die prente in my gang, nuwe betekenis gekry het.

Alles was meteens leeg.

Dit was asof Tafelberg in die see in gesak het.

Ja, dit was soos om een oggend wakker te word en stad toe te bestuur in die spitsverkeer, en Tafelberg is nie meer daar nie.

Tafelberg is … weg. Waar hy gestaan het, is net blou lug. Asof dit nog altyd so was. Asof dit die normaalste ding in die wêreld is.

Baie waters.

Ver weg.

Die gesuis.

En dan, lank en ver terug, die herinneringe, herinneringe van liedjies wat ons gesing het in die donker skoolsale van Apartheid toe ons nog stout seuns was …

Liedjies teen PW.
images-11.jpeg
Ons het toe nog ons wynbottels stukkend geslaan teen die wand van die berg. Die berg wat nou nie meer daar is nie.

Ek weet dat daar iets sal kom na die stilte.

Ek besef ek sal iets voel wat amper soos berou is.

Ek weet daar sal dan weer woorde in my kop spring, woorde van vergifnis, miskien, selfs woorde van humor.

Want die blou lug moet besing word.

PW is nie dood nie, hy’s net uitgepaas.

Die draak het ophou vuur spuug. Die haatfabriek het gesluit.

Die geraas in my kop het verdwyn. En die angs. En die skuld. En die woede van my jeug. Ek trek my kind se klere aan vir skool en laai hom in die kar, en terwyl ek oor sy hare vryf en kyk of daar snot aan sy neus vassit, weet ek: hierdie kind hoef nie eendag army toe te gaan soos ek moes gaan nie. Hy sal dalk teen ander Bothas moet veg, maar nie teen hierdie een nie.

Wanneer ek die kar se deur toeslaan agter my en agteruit by my eie garage uit ry, is die lug oral blou, en die strate is vreemd rustig, en Suid-Afrika het ’n nuwe naam.

this article first appeared on litnet

2 Responses to “Die Groot Stilte”

  1. dirk Says:

    ek verwys graag na: http://teaching.arts.usyd.edu.au/history/hsty3080/StudentWebSites/Nixon%20Obits/source9
    ‘n artikel oor die dood van Richard Nixon
    sekere paralelle kan getrek word met die afsterf van ons eie politieke monster

    sela

  2. cecilia Says:

    Pw is die rede hoekom almal van ons vloek en hoekom almal van ons onsself sat drink elke aand. Maar wag, laat ek hom nou nie al die credit gee nie…hy is maar net een van die span. Daai span wat ons mos team-players maak in die quest vir idealism, ja, kom ons wees optimisties, kom ons smile met gewere teen ons koppe wat nie net oor ons beursies en ons bmw’s gaan nie, kom ons lag oor die incompetence en die idiotiese publieke figure…kom ons kyk na die blou lug en fokken trip op dagga en vergeet en sien net die mooi…hoe ignorant fuckers nou daar rond sweef, in die blou lug, ver van hier af.

Leave a Reply