Wat sou Aldous Huxley van die tik-generasie gedink het?
Koos A Kombuis
2007-03-21

Tot sowat twaalf jaar gelede was ek ’n dwelmgebruiker.
Dit was nie ’n besonder goeie tyd in my lewe nie en as ek daardie tye sou kon oor hê, sou ek beslis nie naby enige vorm van onwettige dwelmmiddel kom nie; nie net omdat dit onwettig is nie, maar omdat alle dwelms in ’n mindere of meerdere mate ongesond is, sielkundig gevaarlik, en antisosiaal.

Wanneer ek egter kyk na die dwelmkultuur wat in Suid-Afrika vandag ontstaan het, moet ek erken: dit lyk vir my erger as enigiets waarmee ons te doen gehad het.
Hoe bereken mens, in finansiële terme of in terme van menslike verlies, die totale effek van iets soos tik? Tik is ’n monster. Tik is besig om ons jeug van onder af op te vreet soos ’n wegholkanker. Dit is die Satan van alle dwelmmiddels. Dit is algemeen beskikbaar, lei verstommend vinnig tot verslawing, en veroorsaak drastiese persoonlikheidsveranderinge waaroor die gebruiker blykbaar geen beheer het nie.
Wanneer ek sien wat tik aan vandag se kinders doen, voel ek oud. Ek voel kwaad. Ek voel om op te tree soos daardie skoolhoofde en pedagoë wat ek self gehaat het toe ek jonk was, want ek sal ENIGIETS doen om te keer dat my kinders tik doen. Vergeet van tydsame berading en geduld. Dit sal “tough love” wees vanaf die eerste sekonde. Vergeet van reëls. Want tik speel nie volgens die reëls nie.

Die enigste dwelmmiddel wat ek uit my jeug onthou wat hoegenaamd by tik kan kers vashou, is Mandrax (“buttons”). Mandrax was ’n vuil dwelmmiddel. Ons het altyd daarop neergesien, want net “kommen” mense het dit gebruik. Selfs in die talle smokkelhuise waar ek tydelike skuiling gesoek het, was daar feitlik orals die ongeskrewe reël: HOU DIE BUTTONKOPPE VAN DIE VOORDEUR WEG. Want die oomblik as jy een buttonkop in jou sitkamer laat plak, daag al sy vriende op. En kort voor lank is die hele kommune rot en kaal gesteel. Want buttonkoppe het nie omgegee vir hul maatjies nie.
Dit laat die vraag ontstaan: Is daar dan iets soos minder antisosiale dwelmmiddels? Is dit moontlik om op ’n meer gesofistikeerde manier ’n dwelmgebruiker te wees? Is daar grade?
Ja en nee. Hoe mens die gevolge van dwelms ervaar, hang nie alleen van die middel af nie, maar ook van die gebruiker. Soos ons dikwels spottenderwys geanekdoteer het: “Die doel heilig die dwelmmiddel.”
Alkoholverslawing is ’n liederlike ding wat gesinne uitmekaar skeur en lei tot geweld en werkloosheid. En tog word ek geborg deur Beyerskloof. Beyerskloof vervaardig die beste Pinotage ter wêreld. Ek het al tientalle male gaan wyn proe by Beyerskloof se landgoed, maar nog nooit iemand daar sien rondslinger met ’n half-jack in ’n papiersak nie …
So dink ek met ’n mate van nostalgie terug aan die tye toe ek nog rondgehang het in Amsterdam se koffiekroeë (ek gaan deesdae om ander redes Amsterdam toe, helaas). Mens kon in Amsterdam kwaliteit-dagga koop uit alle wêrelddele. Dit was altyd vir my ’n bron van verbasing hoe die smaak en effek van dagga uit verskillende streke verskil: dagga uit die Ooste het so ’n tjieng-tjong-effek gehad. Hollandse “skunk” was swaar en donker en vulgêr, soos hoertaal. “Durban Poison” was skerp en giftig soos kerrie. Mens kon die verskillende soorte zol leer herken soos ’n wynkenner sy wyne ken – van proe. Daar was iets edels aan hierdie leerkurwe, selfs al het die spiraal van die kurwe stadig afwaarts gelei, al dieper in die paranoïese doolhof van die tipiese roker se toenemend passiewe siel in!
Tikgebruikers is hoegenaamd nie bewus van enige sodanige subtiliteite in smaak en effek nie. Hulle is ook beslis nie op soek na Nirvana of hul eie Hoër Self nie.

Daar was ’n tyd toe elke selfrespekterende hippie in Haight-Ashbury werklik geglo het dat LSD die mens kan help in sy soeke na die “waarheid”. Dit was ’n studente-ding, amper soos ’n buitemuurse vak, om in die sestigs met dwelms te eksperimenteer. En die grootvader van hierdie denkrigting was natuurlik nie Timothy Leary of eers Albert Hoffman nie, maar die skrywer Aldous Huxley, wat reeds dekades vroeër onder die invloed van Suid-Amerikaanse woestynplante ervarings gehad het wat vandag se laboratoriumprodukte eenvoudig nie kan naboots nie.1 Dit was Huxley wat die term “doors of perception” uitgedink het, waarop Jim Morrison later die naam van sy orkes – The Doors – sou baseer.
Ek beskou hierdie fase – die Westerse wêreld se dwelmwittebrood – as ’n onvermydelike stroomversnelling in ons kulturele ontwikkeling as spesie. Dit het gevolg kort op die hakke van Freud en Jung se ontginnings van die onderbewuste. Dit het onder andere aan ’n hele geslag Amerikaanse jongmense ’n kortpad gebied uit die stereotiepe verveling van ’n klomp voorstedelike waardes wat gesetel was in Pat Boone, “The Green Berets” en slap karre. Soos ons eie, heelwat kleiner Voëlvry-beweging, het die hippies nie werklik die politieke impak gehad waarvan hulle in hul optimistiese beswyming gedroom het nie, maar die wittebrood het tog tot ’n huwelik gelei. Die gemiddelde denkende Westerling van vandag hoef nie dwelmmiddels te vat om te weet dat hy ’n onderbewussyn het nie. Die regte van die individu word algemeen aanvaar. Die generasie wat George W Bush ingestem het, was dalk die laaste geslag Amerikaners wat sonder bevraagtekening die knie sal buig voor gesag. Die nadele van hierdie kits-“enlightenment” is aan die een kant die feit dat nie al die baanbrekers van die sestigs die eksperimenteringsfase oorleef het nie, hetsy fisies of geestelik, en aan die ander kant die probleem dat daar ’n groeiende kloof van intellektuele misverstand is tussen individualistiese jong Westerlinge en die groepsgebonde, hiërargiese, byna Ou Testamentiese waardesisteme van byvoorbeeld hul Islamitiese bure. Al is ek vandag gekant teen dwelms, wens ek soms onwillekeurig die jongmense van Bagdad en Kaboel wil – net een maal - ook iets soos ’n Woodstock beleef!

Geen samelewing wat so ’n wittebrood beleef het, kan ooit weer vrywilliglik terugkeer na waardes soos starre vormgodsdiens en gedwonge huwelike nie. Want rock ’n roll het finaal aan ons tieners ’n stem en ’n reg op keuse besorg.
Dit was ook in hierdie byna edel tradisie dat ek dwelmmiddels begin neem het. Nie bloot om “hoog” te raak ten alle koste nie. Dit was ’n pleister vir die eina, ja; dit was troos in donker kamers van die agterbuurtes, ja; maar daar was ook ’n soeke, ’n hunkering betrokke. Sal ek ooit my eerste heroïen-trip vergeet? Ek was agt uur lank “hoog”. Ek het tjoepstil alleen in my kamer gelê terwyl die res van die kommune-inwoners elders gerumoer het en ek het Dante se “Divinia Comedia” van hoek tot kant deur gelees. Tot vandag toe is dit onmoontlik om die beelde te beskryf wat die teks, onder die invloed van hierdie middel, in my wakker gemaak het. Dit was een van ’n handjievol suiwer, mooi herinneringe wat ek vandag van daardie tyd oorhou.
Alreeds met my tweede trip moes ek ervaar dat ek meer heroïen nodig het om dieselfde resultaat te kry, en kon ek die eerste tentakels van verslawing voel pluk-pluk aan die pante van my hart. Die derde of vierde keer het ek “Nee” gesê. Ek was een van die min gelukkiges wat heroïen oorleef het. Gelukkig in meer as een opsig, want die heroïen wat ek gebruik het, was nog suiwer heroïen – die dealers se “introductory offer” aan Suid-Afrika se jeug, en nie vermeng met allerlei rottegif en suiker en waspoeier of cheap XTC of wat de hel hulle ook al vandag alles bymeng nie.

Sal tik - of een van hierdie ander nuwe konkoksies - my kinders toelaat om “Nee” te sê, selfs al het hulle net een keer daarmee geëksperimenteer?
Ek het mense geken, en ken vandag nog mense, wat letterlik jare, soms dekades lank, geleentheidsdaggarokers is voordat hulle die negatiewe effek begin ervaar, hetsy net in hul longe of ook in hul persoonlike lewens. Maar die tik-duiwel ken nie hierdie soort sagte verleiding nie. Die tik-duiwel donner jou oor die kop met ’n veragtelike chemiese konkoksie en sleep jou aan die hare in ’n dimensie van kitsch ontvlugting in. Daar is nie meer werklik sprake van ’n “door of perception” nie. Dis ’n “black hole”. Dis die hel self.
Ek is nie ’n voorstander van die doodstraf nie. Maar dalk moet ons dit tog oorweeg in gevalle waar die lewens van jongmense in gedrang is. Ons het nie nodig om tik-handelaars in die tronk vet te voer nie. Hulle moet dalk maar liefs uit ons samelewing verwyder word, saam met kinderverkragters en mense wat tienjarige meisies se lyke in mynskagte afgooi.
Ek sien uit na die dag wanneer minder “gemene” dwelmmiddels soos goeie dagga (meskalien is ongelukkig, of dalk gelukkig, moeiliker om in die hande te kry!) per doktersvoorskrif of oor die toonbank wettig beskikbaar gestel kan word – met ’n waarskuwing-sticker daarop wat sê “GEBRUIK SLEGS EEN MAAL PER WEEK” of “MOENIE BESTUUR, BABY-SIT OF BLOG ONDER DIE INVLOED HIERVAN NIE” – sodat dié wat regtig wil, kan leer om dit soos grootmense te gebruik.

Ek het ’n vermoede selfs Aldous Huxley sou met hierdie sentimente saamstem as hy kon sien watse verskriklike nagmerrie ons van-lotjie-getikte jeug – om nie van hul ouers te praat nie – vandag moet deurmaak.

1 Ek het self twee maal die “voorreg” gehad om meskalien te probeer. Ek kan tot vandag nog nie eintlik oor die ervarings praat nie; hoe Huxley dit reggekry het om boeke te skryf onder die invloed daarvan, weet nugter alleen!
this article first appeared on litnet

Leave a Reply