kagablog

November 19, 2007

Die ekonomie bloei… so SÊ hulle…

Filed under: koos kombuis — ABRAXAS @ 9:50 am

koos2.jpg

As gevolg van ‘n rare sameloop van omstandighede – pas voltooide bouwerk aan ons huis, ‘n klub in Johannesburg wat my nie betaal het nie, en onverwagte uitgawes – was ons gesin die afgelope paar weke gewikkel in ons eerste ernstige kontantvloei-krisis in meer as tien jaar.

Dit was ‘n leerkurwe.

Skielik kon ons nie sommer net in Woolworths instap en alles in die trollie gooi wat lekker lyk of fraai verpak is nie. Vir die eerste keer in jare moes ek skeermeslemmetjies koop wat vier rand kos per pakkie in stede van veertig. Een dag het ek my huishulp se dag-fooi van byna honderd rand uittel in silwer munte. En toe die nood regtig druk, breek ons die kinders se spaarvarkies oop en leen van hulle tandemuis-geld!

Hierdie penarie het my oë laat oopgaan, nie net vir die daaglikse probleme van talle gewone mense nie, maar ook vir ander dinge.

Ons gewone ouens, wie se bankbalans nog nooit ‘n halfdosyn nulle bevat het nie, weet min van wat aangaan in die duistere en onverstaanbare wêreld van “High Finance”. Party van ons verstaan die breë beginsels van die landsekonomie, maar die meeste mense wat ek ken gooi die sakebylaes van hul Sondagkoerante weg en blaai dadelik na die sport of na Deon Maas se bladsy toe.

Omdat ons finansieel naief is, gaan dit by ons verby wanneer ons iewers hoor dat die Baas van Eskom himself ‘n Krismisbonus van dertien miljoen uitbetaal het. Die bedrag is so onvisualiseerbaar hoog dat mens te lam in die knieë voel om daarteen te protesteer. Mens kan netsowel protesteer teen die afstande tussen sterre in die heelal!

Net so het die gemiddelde mens geen benul van die enorme kostes wat betrokke is by die omstrede wapentransaksies van ons bewindhebbers nie. Het ons daardie duikbote en vegvliegtuie nodig of nie? Hoe de hel moet ek weet? Al waaraan ek kan dink, is dat die toiletpapier in die spaarkamer op is en dat ons vanaand dalk gaste kry.

Eers wanneer die gate in die Groot Ouens se beursies ons lewens direk raak, besef ons dat daar dalk iewers ‘n krisis is. Wanneer ek geboek is om oor ‘n week Bloemfontein toe te vlieg, en ek hoor van vliegtuie waarvan die enjins uitval en van ongelukke op die aanloopbaan, dan begin ek rêrig bekommerd voel. Dan voel ek uitgelewer aan magte buite my beheer.

Wanneer ‘n familielid van ‘n goeie vriendin aangerand word in sy eie huis, gelos word vir dood, en uiteindelik bykom in ‘n staatshospitaal waar die geriewe primitief en vuil is, en waar die hospital-kafeteria nie tee kan bedien nie omdat hulle teesakkies op is, DAN raak die geldtekort van die gesondheidsdienste ‘n konkrete bedreiging wat die kwaliteit van jou lewe direk kompromiteer. Skielik is dit meer as net ‘n koerantstorie.

En skielik begin lees jy ook sommer alle afdelings van die koerant met groter aandag.

Mens se oë dwaal vanaf die koerantberigte van baba’s wat in kartondose rondlê in die gange van kraamsale tot die peperduur privaat kamer waarin Tannie Manto herstel het na haar lewer-oorplanting, en jy vra jouself af: wat is fout met hierdie prentjie?

Jy hoor van misdaad en gerugte van misdaad, maar iewers in jou kop steek ‘n sewe-of-agt-syfer-bedrag vas wat Thabo Mbeki vir die heining om sy huis betaal het.

Ergste van alles, jy weet almal praat van ons land se “ekonomiese wonderwerk”, jy hoor almal sê dat “al is die regering ‘n spul kroeks, doen Trevor Manuel darem sy job goed”. Maar, wag ‘n bietjie: as daar nie geld vir broodnodige dienste is nie, het dit nie ALLES met Trevor Manuel te doen nie? Of raak die geld weg iewers tussen die teoretiese papierwerk en die ouens wat die rêrige muntstukke na die rêrige blikkies toe moet allokeer?

As die ekonomie bloei, waarom moet baba’s in kartondose lê? As die ekonomie bloei, waarom word verpleegsters en polisiemanne nie ordentlik betaal nie? As die ekonomie bloei, hoekom val ons treine en vliegtuie uitmekaar uit?

As die ekonomie bloei, waarom bloei ons almal saam?

One Response to “Die ekonomie bloei… so SÊ hulle…”

  1. Eva S. Says:

    that guitar is amazing!!!!
    what sort of guitar is that?

Leave a Reply