‘n Kultusverhaal vir Psigopate met ‘n Humorsin

The Ballad of Sugar Moon and Coffin Deadly deur Aryan Kaganof
Uitgegee deur Pine Slopes Publications (Mei 2007)
Resensie deur Koos Kombuis
Hierdie is een van die snaaksste boeke wat ek nog ooit in my lewe gelees het sonder om een keer te lag. Nog selde was ‘n satiriese komedie so beklemmend. En nog selde was ‘n opeenstapeling van voorheen ontginde tema’s en literêre clichés so oorspronklik!
“The Ballad of Sugar Moon and Coffin Deadly” is die verhaal, in vrye vers-vorm, van twee baie onvriendelike mense. Coffin Deadly, ‘n bankrower en gewoonte-moordenaar, reis met sy tienderjarige meisie, Sugar Moon, deur die onderwêreld van Suider-Afrika. Sugar Moon is verslaaf aan dwelmmiddels en Coffin Deadly drink te veel. Soos in die fliek “Natural Born Killers”, is ‘n mens nie altyd seker waar hallusinasie eindig en werklikheid begin nie.
Is die kroegman wat Sugar Moon gevange neem in Port St Johns werklik Osama Bin Laden? Probeer Coffin Deadly werklik vir Nelson Mandela vermoor net omdat hy nie hou van die hemde wat hy dra nie? Is Rodrigues werklik ‘n beter sanger as Peter Sarstedt? Is daar al ooit sulke tragi-komiese verse geskryf soos die volgende?
“Fuck me Deadly! Make a baby!” She would
scream while I pushed that thing inside her
with everything I had. We were both long past
the point of holding anything back and then we
came together for the first time and I could feel a
baby coming out of me and it was more than a
little ironic that we had met at the abortion clinic
but then, I never wrote the script of my life, I
merely lived it…”
As kru galgehumor Kaganof se handelsmerk geword het – ons het hom immers leer ken deur die (nou meer kontroversiële as ooit) selfoon-rolprent “SMS Sugar Man”, die bizarre drinkstories “Stones Again” en sy holderstebolder outobiografie “Uselessly” – vat hierdie ‘epiese gedig’ letterlik die koek.
Soos ‘n wafferse Bonnie en Clyde bestook hierdie twee misfits, die immer besope Coffin Deadly en sy al meer veeleisende side-kick Sugar Moon die reeds gebroke lokale werklikheid. Hulle probeer vergeefs drugs koop in Keetmanshoop (dit kon ek hulle gesê het). Hulle overdose in die Mount Nelson Hotel in Kaapstad. Hulle veroorsaak ‘n kroeggeveg in Knysna. Hulle vermoor Britse toeriste in Natal. En eindelik eindig alles op ‘n hopelose antiklimaks wanneer hulle probeer hoender koop by Fontana in Hillbrow. Coffin Deadly word gevang en beland saam met die Boeremag-lede in ‘n sel, waar die swart bewaarders hulle martel met luide kwaito-musiek. Sugar Moon word staatsgetuie, maar verduidelik haar verraad aan Coffin Deadly in ‘n lang, swak geskryfde liefdesgedig waarin sy aanhoudend plagiaat pleeg deur bekende reels uit popmusiek-liedjies te steel. Pappa Coffin se foetus word geaborteer, en wanneer hy die nuus in die tronk hoor “sterf” iets in hom. As gevolg van die helende invloed van kwaito-musiek kom hy egter tot berou oor sy woeste lewe:
I am very sorry for all the pain and suffering
I caused my victims and their families. There really
should be more stringent gun laws in this country.
It’s madness, all those guns out there.
Ja, dis waar. “The Ballad of Sugar Moon and Coffin Deadly” is melodramaties en ongeloofwaardig, hoogstens ‘n opeenstapeling van absurde ontmoetings en kwasi-ernstige mymerings. Die waarde van die werk is nog in die karakter-uitbeelding nog in die storie, maar eerder in die skerp taalgebruik en ironiese jukstaposisies.
The security guard at the Melville branch of ABSA
Bank swiped me down with the electronic sensor
Which went off. Beep beep. He smiled unctuously.
“Sir, please hand in your cell phone.”
“I don’t have a cell phone.”
“Then what’s making that sound?”
“My gun.” He laughed. I laughed
too. Then I shot him.
Dit is baie jammer dat hierdie boek nie algemeen in winkels beskikbaar is nie; mens moet blykbaar die uitgewers persoonlik ken, of ‘n brief stuur aan Posbus 86, Westhoven 2142. Maar dit is tipies van Kaganof se werkwyse deesdae; waar hy voorheen, onder sy oorspronkelike naam (Ian Kerkhof) ‘n wêreldbekende filmmaker en kunstenaar was wie se werk hoog aangeskryf is van Amsterdam tot New York, verkies hy, om redes net aan homself bekend, om deesdae feitlik anoniem te werk in Suid-Afrika. (Volgens gerugte het hy deesdae sy eie band ook, en speel hulle meesal in Boksburg.)
Dit is nie bekend wat sy lewensfilosofie is nie, maar onderstaande aanhaling kan dalk leidrade verskaf:
I stifled a yawn. I was feeling rather sleepy.
Osama was no different from Mussolini or Robert
Mugabe, just another crazy crackpot dictator in
Love with the sound of his own voice. He wouldn’t
Have lasted very long on Jerry Springer I tell you.
Leave a Reply