die son sien alles
Die Son! Die Sôôn! Mornings, lufly laydy, Die Son?
hy verkoop rampspoed en ellende elke dag
’n paar tanne ontbreek, maar die smaail is breed
/die man op sy hande en knieë
verteer deur vlamme, skaars meer mens
kop smekend gedraai
/
/die nuwe lewetjie in die asblik gelos
saam met gister se koerante
en oorskietkos/
MOORDVERKRAGTINGROOFSODOMIEBLOEDSKANDEPEDOFILIEGEWELD
lelike woorde; grusame dade
’n vuishou in die buik
laag en hard
ek draai my kop weg en knip my oë,
kyk prentjies buite die treinvenster
’n hond met rug gekrom knyp haastig ’n drol af,
loer angstig oor die skouer na sy baas wat vooruit loop
die see is troebel groen; grys wolke hang laag
’n rob draai lui om in ’n brander
tussen dobberende seewier
en oral óm my mense
soveel variasies van twee oë, een neus, een mond
elk in ’n eie web
smartvreugdehaatliefdesondevreesgelukpynrou
my seuns se slaapwarm omhelsing vanoggend
my ma smeer haar liefde op hul broodjies vir skool
al dié oomblikke ryg ek
soos pêrels in my bidsnoer
om uit te haal en oor en oor te voel
om die boosheid te besweer
om die donker af te weer
die snoer bind my dag, die week, ’n maand, ’n jaar
my lewe
dankie vir ons daaglikse brood
dankie vir die reën,
die sterre en die maan
dankie vir die son wat alles sien, alles verdra
en ondanks alles
elke dag nuut opkom

June 17th, 2008 at 2:40 pm
Hey dats so cool gal! Beautiful ..
September 21st, 2008 at 5:39 am
ra is daa…