triptiek vir drie dierbare ontslapenes
i
uit ’n wrak van verwronge yster
(merkwaardig sonder letsels)
het hulle jou lyk gehaal
jy het geslaap daai aand
in ’n laai van koue staal
jy slaap nou vir altyd
goeienag
’n duisend maal
ii
dit was donkermaan
so jy moes weet wat jy doen,
wat jy wou doen
jy was so oud soos jesus aan die kruis
die witstinkhoutboom was jonk,
maar die mik was sterk genoeg
onder andere ’n matroos
het jy die tou pragtig geknoop
gebalanseer
gevloek? gebid?
en vry
gespring
iii
die pataloog se verslag
het die afgryse tegnies verwoord:
5 hamerhoue teen die kop
(die eerste het die skedel deels verbrysel)
11 messteke in die bors en keel
(uitsluitend die afwerende hale op arms en hande;
insluitend die laaste – die nekslagaar, oftewel karotis)
die staatslykhuis kon jou trouring
nie terugbesorg aan jou naasbestaandes nie
dit was ‘onherstelbaar beskadig’

September 21st, 2008 at 5:48 am
cudo’s sus