kagablog

September 2, 2008

kroegstorie

Filed under: poetry, narike lintvelt — ABRAXAS @ 4:09 pm

‘Gee my daar ’n Riekie Louw, meisiekind,
en moenie skaam wees nie – lig maar die elmboog.
O, jy ken hom?
Ja, wat’s die fancy ‘Richelieu’ kak –
ek ken die ou mos al lank,
ek roep hom sommer Riekie.
Nee, watse ge-meneer is dit die –
sê maar Buks; almal ken vir Buks, vra maar.
Sit maar dam by – ek weet visse naai in die water,
Maar ek’t mos die Coke gelos –
check die pens.
Dokter sê ek het hoë cholesterol;
moet minder rooivleis eet, meer hoender.
Maar dis mos fokken groente, man.
Ek tune hom: Dok, lyk ek vir jou soos ’n fokken vegetariër?
Was nou die dag daar in Wellington –
ek verkoop mos ploegskare –
nou as ’n man daar dors raak beter jy Wellington brandy order,
maar hulle roep hom ‘Dorp’ –
Dorp en Dam of Dorp en Coke.
Jis maar jy’t darem flippen oulike boudjies –
Dink jy sy’s ’n gillertjie, Piet?
Nee, check daai gesiggie –
Sy’s stil soos ’n bedlampie;
sien alles en sê niks.
Gooi maar nog ’n rondte daar, niggie
en kry vir jou ook iets –
’n lekker ou Springbokkie of so –
julle girls like mos soetgoed.
Ja, die lewe is maar kak –
die vrou het mos gesê ek moet kies tussen haar en die drank.
Dit het my bietjie laat dink,
toe sê ek vir haar: Fok, baby, ek gaan jou mis.
Nou kruip sy weer gat by my –
soek seker geld –
so nou’s my fokken egskeiding ook op die rotse.
Die jissis weet, ek bid deesdae onder ’n skuilnaam.
Gooi maar weer, nooi –
gooi maar ’n rondte vir die bar.
Ja, daai twee moffies in die hoek ook –
ek’s mos ’n generous ou.’

Leave a Reply