kagablog

May 4, 2009

koos kombuis reviews uselessly

Filed under: reviews, koos kombuis, 2006 - uselessly — ABRAXAS @ 8:42 pm

0261.jpg
buy uselessly now (in south africa)

review by Koos Kombuis

Daar is heelwat Suid-Afrikaanse kunstenaars wat baie graag naam wil maak oorsee. Daar is ouens wat liedjies komponeer oor plekke soos Brakpan, maar eintlik droom hulle van ‘n uitverkoop-aand in die Royal Albert. Daar is skrywers wat boeke skryf oor longdrops in die Karoo en drug trips in Seepunt, maar in hulle harte voel hulle dat hulle die script vir “Trainspotting” sou kon doen.

Dan is daar Aryan Kaganof.

Reeds vir jare lank is hy bekend oorsee. Hy hou kunsuitstallings in New York, vervaardig kultus-flieks in Amsterdam. Onder die naam “Ian Kerkhof” behaal hy roem en respek op die internasionale front; helaas nie ‘n huishoudelike naam soos Tretchikoff of Steven Spielberg nie, maar nou ja. Ian Kerkhof is iemand om mee rekening te hou. Hy is cutting edge.

Toe, een dag, ontdek hy sy roots. Toe, een dag, onthou hy dat hy eintlik in Suid-Afrika gebore is. Toe, een dag, word hy “wedergebore” as ‘;n Suid-Afrikaner, verander hy sy naam na Aryan Kaganof, en koop ‘n vliegkaartjie hiernatoe.

In Seepunt word hy herenig met sy biologiese vader, en hy trek by hom in die woonstel in. Hier begin hy sy mees persoonlike gedagtes neerskryf in ‘n reeks notaboekies. Uitiendelik groei hierdie aantekeninge tot ‘n roman; ‘n Suid-Afrikaanse roman. ‘n Roman gevul met karakters uit Seepunt, Stellenbosch, Alberton, en allerhande mundane plaaslike plekke.

As Aryan Kaganof probeer die voormalige Ian Kerkhof nou naam maak as ‘n Suid-Afrikaanse skrywer.

Die roman “Uselessly” is sy eerste vollengte literêre poging.

Daar was ook ander pogings. Hy het ‘n hele rolprent in Johannesburg geskiet op selfone en dit versprei op die Internet. Daar was ook digbundels, uitstallings, selfs pogings tot mode-ontwerp. Aryan Kaganof is ‘n Renaissance-man, en as sulks deel van die Afrika-Renaissance; miskien nie op presies die manier wat Thabo Mbeki dit sou wou hê nie, maar, nou ja, you can’t keep a good man down.

Anders as J.M. Coetzee, wat die Pullitzer-prys gewen het toe hy nog hier gewoon het, en toe Australië toe getrek het om alleen te wees tussen die skape en die kangaroo’s, het Kaganof besluit om hiernatoe te trek en sy inernasionale loopbaan vireers “on hold” te sit.

Hierdie gegewe alleen behoort genoeg te wees om enigiemand se nuuskierigheid te prikkel. Ek moet egter erken dat ek “Uselessly” gelees het voordat ek enige van hierdie feite geweet het. Ek had geen benul Kaganof en Kerkhof is dieselfde persoon nie. Ek was onbewus daarvan dat die grootste deel van die roman inderdaad autobiografies was, en het dit gelees soos fiksie. My reaksie op die teks was totaal en al gestroop van enige vooropgestelde idee’s.

Eerstens: ja, daar was hinderlikhede. Was ek ‘n uitgewer, sou ek ‘n boek soos “Uselessly” dalk ‘n bietjie meer ge-edit het. Daar is geweldig baie herhalings – soms tot ‘n hele bladsy – en die voor-die-hand-liggende woordspeling tussen die titel “Uselessly” en die James Joyce-werk “Ulysses” is ietwat deliberaat en boonop nie vreeslik snaaks nie. ‘n Te groot deel van die boek bestaan uit slimmighede en one-liners; goeie one-liners, okei, maar hel, mens kan net soveel genialiteite hanteer voor jy begin voel dit hinder die verloop van die storie.

Ten spyte van hierdie slaggate (wat Kaganof nie vermy nie, en waarteen sy uitgewers hom klaarblyklik nie gewaarsku het nie), is “Uselessly” ‘n boeiende, eerlike, interessante, en werklik vars leeservaring.

Ek is nie seker presies hoekom ek in die loop van die 192 bladsye verlief geraak het op Kaganof se manier van werk nie. Ek weet ook dis nie enige leser se koppie tee nie. Maar daar is iets in sy prosa – die soort varsgeid wat mens laas ervaar het met die vroeë werk van Kurt Vonnegut, gemengd met die kinderlike sinsime van Darrel Bristow-Bovey, wat jou eenvoudig om die hart gryp en meesleur, meesleur. Aan die einde van ‘n boek soos hierdie is jy of ‘n Kaganof-fan vir altyd, of jy wil jou polse sny. Of beide.

‘n Ou wat dinge kan kwytraak soos die volgende, verdien ons volgehoue aandag:
“Life in Cape Town is an ongoing soap about waiters and menus. It’s a bit like sitting in a Peter Stuyvesant ad.”

“My entire childhood, I longed for abuse. Everywhere I went, I was always hearing how some kid got abused, and gradually I began to believe that I was the ugliest, most unappealing child in the world, because nobody ever took time off from their busy schedules to interfere with me.”

“I have raped, I have battered, I have lied, I have cheated, I have stolen, I have betrayed, I have perjured, I have bullied, I have depraved, I have run away. In short, I have led a very normal life. But I have never committed genocide. Not yet.”

Nou ja, wat kan mens hierop sê?

Baie, baie welkom in die Nuwe Suid-Afrika, Aryan Kaganof. Jy sal beslis tuis voel hier.

this review, in a slightly altered form, was first published in the rapport newspaper.

Leave a Reply