koringland met kraaie
die roetswart kraaie swiep en draai
teen die fatale blou lug,
hul koggelende gekras
’n atonale lied begelei deur die wind
wat oker patrone in die koringland waai
weerskant die voetpad na nêrens
die enkele geweerskoot
laat hulle uitmekaar vlie,
die vlerkgeklap soos ’n skielike bui reën
dan stilte en ’n dampie rook
en die swael reuk van buskruit
die man se kobalt oë word vaal
terwyl die karmosyn roos in sy bors helder blom en sprei
die kraaie hervat hul spiraal
wat ál laer swiep en draai
swiep en draai
Leave a Reply