kagablog

June 1, 2009

EOAN-groep se geskiedenis word onthou by die US

Filed under: eoan group — ABRAXAS @ 10:41 am

09.jpg

Die EOAN-groep het in tye van donkerte in Suid-Afrika se geskiedenis “klanke van hoop gebring wat nooit stil geword het nie”.

Prof Russel Botman, US Rektor, het tydens die amptelike oorhandiging van die EAON Argief aan die Dokumentasiesentrum vir Musiek (DOMUS) in die Departement Musiek aan die Universiteit Stellenbosch (US), gesê dit is EOAN se geskenk aan Suid-Afrika vandag dat hulle “nooit ophou sing het nie”.

Die EOAN-groep was sedert die vroeë 1930s tot vandag ‘n aktiewe kulturele organisasie in die sogenaamde Kleurling-gemeenskap. Vanaf die middel van die vyftigerjare het EOAN onder leiding van Joseph Manca ‘n suksesvolle operageselskap geword. Die groep het vele opera- en ander produksies op die planke gebring tot in die sewentigerjare, wat ook nasionale en internasionale toere ingesluit het.

Prof Botman het gesê die gebeure van die aand resoneer betekenisvol op die vraag “Hoe hoor ons mekaar?’ “Ons hoor die lank vergete stemme van sangers, kore, repetiteurs, dirigente. Ons hoor die voete van dansers en die geluide van skoonmakers en kleremakers. Ons hoor die stootskrapers in Distrik Ses en die hartseer van die gepaardgaande ontworteling. Ons hoor die applous in konsertsale en operahuise. Ons hoor die stiltes van wat kón gewees het, en onvervuld gebly het.”

Prof Botman het ook gesê die geskiedenis van EOAN is ʼn belangrike geskiedenis omdat dit nie “net ʼn eggo is van bevrydingsnarratiewe tydens Apartheid nie”.

“Dit behels die verhale van individue wat as kunstenaars en musiekliefhebbers die beste probeer doen het in moeilike omstandighede. Hierdie verhale is nie eerstens verhale van politieke aktivisme nie, maar van liefde vir musiek, van omgee vir mekaar en van gedeelde drome.”

Prof Botman het ook gesê die US is trots om saam met die EOAN-gemeenskap die eerste tree te neem om hul verhale te dokumenteer.

Mnr Phillip Swales, voorsitter van die EOAN Trust, het gesê hy is “absoluut betower deur die erfenis wat agtergelaat is.”

“Dit was ʼn erfenis wat nie altyd erken was nie en soms vernietig was.”

Hy het beskryf hoe die lede van die EOAN-groep in teaters regoor die Kaap en verder opgetree het. “Hulle was nie gevra om dit te doen nie – dit was ʼn liefdestaak. Dit van ons diepste wese gekom.”

Hy het ook vertel hoe die lede van die EOAN-groep gewone mense met gewone werke was. “Hulle het hul gewone werk in die dag gehad maar hulle het die kulturele landskap van die Kaap, en ook ander plekke, verander. EOAN het uit die as verrys soos ʼn feniks en die kritici verstom.”

Die foto-versameling, wat in die foyer van die Konservatorium uitgestal word, is deur die fotograaf Cloete Breytenbach geskenk en beeld die spogjare van die EOAN-groep uit toe hulle vollengte operas aangebied het.

Onderskrif: ‘n Terugblik op die ou dae: Hier is van gaste wat die oorhandiging van die EOAN Argief aan die US bygewoon het, by van die foto’s wat die EOAN-geskiedenis uitbeeld. (Foto: Anton Jordaan, SSFD)

Leave a Reply