kagablog

June 1, 2009

Kuns tussen boekrakke daag lesers uit met beelde van populêre kultuur

Filed under: stacy hardy, chimurenga library — ABRAXAS @ 9:34 pm

library-composite-297x250.jpg

Visuele Kuns - Chimurenga Library - Kaapstadse sentrale biblioteek.

Chimurenga Magazine, ’n Pan-Afrikaanse joernaal wat in 2002 deur Ntone Edjabe gestig is, ontleen sy naam aan die Shona-woord wat losweg as “stryd” of “wroeging” vertaal kan word.

Die Chimurenga Library is ’n internet­-argiefprojek onder kuratorskap van die redakteurs en medewerkers van dié joernaal, met die doel om aandag aan Pan-Afrikaanse joernale te skenk en ­skrywers, ­lesers en kuns­tenaars aan te moedig om werke in reaksie daartoe te skep.

Die Chimurenga Library-uitstalling in die nuwe Kaapstadse sentrale biblioteek spruit uit bo­genoemde web-argief en vorm deel van die 2009 Cape Africa Platform.

Kuratorskap word aan die ­joernaal en “Chimurenga people” toegeskryf – met navorsing deur ­Stacy Hardy, uitstallingontwerp en produksie deur Douglas ­Gim- berg, asook bykomende ontwerp en ­navorsing deur vele ander.

Hierdie uitstalling behels ’n subtiele indruising teen die biblioteek se klassifikasie- en navigasiestelsels deur die plasing van lees­roetes, aanhalings en luisterposte wat biblioteekgangers aanmoedig om inhoud wat met Pan-Afrikaanse joernale en die Pan African ­Space Station(PASS Radio)-projek verband hou in die biblioteek op te spoor. Die “nuwe” klassifikasiestelsel is doelbewus subjektief en lig uit juis die onvoldoende en subjektiewe aard van heersende sisteme waarvolgens inligting verdeel word. Aanwysingsborde vir kategorieë soos “Apathy”, “High Prices”, “Corruption”, “Paranoia” en “Study Quietly” is bakens vir ’n reeks komplekse leesroetes waarvoor plekaanwysers op die vloere van die biblioteek aangebring is.

’n Installasie getiteld Why Must a Black Writer Write About Sex bied onder meer fotogekopieërde uittreksels uit sekere swart skrywers se werk, ’n skyn-graffitistuk deur Aryan Kaganof van ’n aan­haling uit Njabulo Ndebele se The Cry Of Winnie Mandela, en ’n innoverende animasie deur Hardy en Francois Naude, dis.grace. In dis.grace word J.M. Coetzee se ­Disgrace woordeliks “vertaal” deur Google se “Image Search” te gebruik om die boek deur die oë van populêre kultuur oor te vertel.

Die Chimurenga Library-uitstalling het die potensiaal om gesaghebbende klassifikasiestelsels uit te daag en biblioteekgangers aan te moedig om die konsep van ’n post-koloniale Afrika-identiteit te deurdink.

Tog is dit ongelukkig, soos met ander kunswerke wat staat maak op die publiek se toevallige ontmoeting daarmee, juis die gebrek aan publieke interaksie wat dié projek straks laat platval. Ná ’n ­hele middag in die biblioteek (wat verblydend besig was), het ek ­niemand opgemerk wat enigsins aandag gee aan die aweregse ­aanwysings of na die luisterposte gaan nie. Selfs die skyn-graffiti­stuk is grootliks geïgnoreer. Biblio­teekgangers moet dalk op ’n veel meer opsetlike wyse van die projek bewus gemaak moet word.

Desnieteenstaande word die “Chimurenga Sessions”, wat ­sekere aande vir die duur van die uitstalling aangebied word, goed bygewoon en bied dit ’n brood­nodige platform vir musiek, digkuns en gesprekke rondom kontemporêre kulturele vraagstukke.

ADRIENNE VAN EEDEN-WHARTON

Besoek www.chimurengalibrary. co.za

this review first appeared on dieburger.com

Leave a Reply