Die Drie
Ek het twee keer van tevore vir Dood ontmoet.
Ek het hom met my eie hand gegroet.
Een keer was ek bewus en my siel het daarvoor gebloei.
Die ander keer was my bewussein beroof van wat my lyf gedoen
het, maar die oomblik het homself op my gewrig graffeer,
drie keer. Drie keer.
Drie lidtekens wat ‘n oomblik van geweld binne
in hulle probeer vaskeer …
maar die oomblik worstel teen my vel
en rek die merke blink uit soos die geweld
iemand anders wil betas.
Hulle voel vreemd vir my vingerpunte,
asof hulle nie deel van my is nie,
al is hulle my vel.
Elke ander lidteken,
elke ander merk
is ‘n oomblik
aspris in my vel in uitgebeeld,
in aandenking vir gevoelens so omhelsend
dat hulle eers deur my vleis onthaal word
voor my siel voor hulle buig.
… behalwe vir die drie …
En terwyl die ander terug trek in hulself in
en dun wit paaie van onthou uitwys,
die drie voel niks vir die vlerke van tyd nie
en bly donker, pers
aangetaste vel.
Ek kan nie van hulle af wegkyk nie.
Ek kan nie aan hulle raak nie, maar
die drie raak aan my sig,
vorseer my gedagtes binne in, diep,
tot dat my siel net afkyk en vergeet van voor af.
Maar partykeer ontwaak ek uit ‘n
angsbevange on-onthoubare droom
wat vel met mes groet net buite die ruim
van sig, voel ek hoe die drie my asem laat smag
en begin koorsig gloei, en
dan onthou my bewende lyf
die handskud wat my siel laat skree.
Leave a Reply