kagablog

March 15, 2010

Kerkhof wil konfronteer

Filed under: 1995 - nice to meet you, please don't rape me! — ABRAXAS @ 2:34 am

0142.jpg

Ian Kerkhof is die omstrede regisseur van die fliek Nice to Meet You, Please Don’t Rape Me wat vandeesweek in Grahamstad vertoon is.

HERMAN WASSERMAN

G RAHAMSTAD. Sy rolprente is daarop gemik om mense ongemaklik te laat voel, om die visuele oomblik so uit te rek dat kykers verveeld raak en uit die vertelling glip. Eers dan is rolprentkyk nie meer ‘n ontvlugtende ervaring nie, maar ‘n konfrontasie wat kykers aan die dink sit, sê die filmmaker Ian Kerkhof.

Kerkhof, wat die afgelope drie jaar weer in Suid-Afrika woon ná ‘n tydperk in Nederland waar hy opspraakwekkende films gemaak het, is die spesiale gas op die filmfees-afdeling van die Standard Bank Nasionale Kunstefees wat tans hier aan die gang is. Vyf programme van Kerkhof se rolprente word vertoon.

Ná die vertoning van sy rolprent Nice to Meet You, Please Don’t Rape Me, ‘n “verkragtingblyspel” wat in 1995 in Yeoville, Johannesburg verfilm is na aanleiding van die skrikbewind van die Yeoville-verkragter, het Kerkhof gesê die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf is “irriterend” omdat dit sulke “gelukkige prentjies” voorhou. “Kultuur raak deel van die probleem, omdat dit mense verdoof,” het hy gesê.

Kerkhof se Nice to Meet You, Please Don’t Rape Me kan, wat tematiek betref, inderdaad nie beskryf word as ligte vermaak nie, nóg is die styl maklik toeganklik. Kerkhof het in sy kommentaar oor sy werk gesê sy films word dikwels as Brechtiaans bestempel, en Nice to Meet You, Please Don’t Rape Me bevat inderdaad heelwat absurditeite. Daar is nie ‘n sentrale verhaal nie, maar eerder ‘n reeks monoloë wat nie altyd bymekaar aansluit nie.

Genres soos die musiekblyspel, die soetsappige ek-belydenisse van praatprogramme en die riller word geparodieer om kommentaar te lewer op die verskynsel van verkragting in Suid-Afrika. Die materiaal is dikwels skokkend juis vanweë hierdie oënskynlik speelse aanslag tot ‘n ernstige saak. Maar dit beteken nie dat verkragting getrivialiseer word nie. Daar word ook aan die politieke aspekte van die misdaad aandag gegee.

Kerkhof het gewys daarop dat die apartheidstaat mans opgelei het om vroulike aktiviste in die Wes-Kaap te verkrag. “Verkragting was nog altyd deel van oorlog, en verkragting is ‘n politieke kwessie,” het hy opgemerk.

Waar sy verkragtingsfilm vervreemdend werk en konsentrasie verg, is sy bekende rolprent Wasted/Naar de Klote pakkend van die eerste oomblik af. Dit is ‘n frenetiese blik op die rave-toneel in Amsterdam en die gepaardgaande handel in Ecstasy-tablette. Nie alleen is dit ‘n boeiende spanningsverhaal nie, maar is dit ook ‘n oudiovisuele oorrompeling.

Die tempo word aangejaag deur die energieke house-klankbaan wat nooit skiet gee nie, en die kyker word as ‘t ware op ‘n dwelmrit geneem deur die visuele rondomtalie waarvoor Kerkhof glo 35 kameras gebruik het. Kleur, klank en beeld verleen aan die film ‘n merkwaardige tekstuur, terwyl daar nie ‘n ondubbelsinnige boodskap vir of teen dwelms uitgestuur word nie. Geen prekery nie, dus.

Wasted het wel ‘n bepaalde hoofstroom-toeganklikheid wat pas en verhaal betref, maar Kerkhof gaan nie kompromieë aan ten opsigte van geweld, seks of dwelmgebruik nie. Dis ‘n werklik treffende werk.

‘n Ander Suid-Afrikaanse filmmaker, die jong Dumisani Phakati, se rolprente is in ‘n totaal ander idioom as dié van Kerkhof, maar dit is juis ‘n aanduiding van die wye verskeidenheid prente wat op die filmfees-afdeling van die kunstefees te sien is. Sy drietal kortfilms wat hier vertoon word, heet Christmas with Granny, An Old Wife’s Tale en Rough Ride. Die sjarmante Christmas with Granny handel oor ‘n jong seun se treinreis na sy ouma. Dit word ook ‘n reis na volwassenheid en is gebaseer op ‘n verhaal van Johnny Masilela.

An Old Wife’s Tale is ‘n wisselvallige komedie oor ‘n wit Afrikaner-boer wat ingevolge ‘n Afrika-tradisie vir hom ‘n tweede vrou neem. Dit is egter die dokumentêr Rough Ride, oor die taxibedryf in Suid-Afrika, wat besonder interessant is. Dit is ‘n deeglik nagevorsde en goed vervaardigde uiteensetting van die historiese, ekonomiese, sosiale en kulturele aspekte van die taxibedryf. Van die ontstaan van die bedryf as ‘n poging om onafhanklik te wees van die apartheidsregering se drakoniese beheer oor swart entrepreneurskap tot die taxigeweld in die jare negentig word omvattend uiteengesit, terwyl daar met behulp van staaltjies en vertellings deur taxibestuurders en -gebruikers ‘n warmte aan die feitelike gegewens gegee word. Selfs die handseine wat gegee word om ‘n taxi te roep, die sterk en swak punte van verskillende fabrikate bussies tot die daaglikse roetine van die bestuurders word uitgebeeld. Vir buitestaanders maak dit ‘n hele wêreld oop.

Ian Kerkhof, wat in die visuele kunste as Aryan Kaganof aktief is, wys van Maandagaand om 18:18 ‘n versameling “digitale skilderye” by die Vereniging vir Visuele Kunste in Kerkstraat, Kaapstad. Die tentoonstelling heet Logoff Logon Logos. Saterdag, 14 Julie, om 20:02 is daar ‘n spesiale vertoning van sy films en video’s in die galery.

this article first appeared in die burger

Leave a Reply