Kaganof lê nare waarhede vreesloos bloot
Aryan Kaganof, wat pas ‘n omstrede boek oor Suid-Afrika in Nederland die lig laat sien het, gedurende ‘n onlangse besoek aan Kaapstad afgeneem.
STEPHANIE NIEUWOUDT
DIE Engelse manuskrip Hectic! lees vinnig. Dis amper soos tonele uit ‘n rolprent ‘n nihilistiese orgie van seks, drank en ander vergrype. En dan kom jy by die laaste hoofstuk. En jy is lus om lank en hard te ween.
Die Engelse manuskrip deur Aryan Kaganof is deur ‘n plaaslike uitgewer afgekeur, maar onmiddellik deur die Nederlandse uitgewery Podium opgeraap en onder die titel Hectisch uitgegee 15 000 eksemplare is met die eerste oplaag gedruk.
“Die boek maak geld vir my,'’ sê Kaganof, terwyl hy agteroor leun op ‘n rusbank in ‘n kuierplek in Melville.
Jy trap in die strik om iets van die hoofkarakter in die skrywer te soek. Maar Kaganof lyk asof hy gereeld bad, daar is geen opsigtelike tekens van dwelmmisbruik nie kortom, hy lyk doodgewoon.
“Red is ver verwyderd van wie ek is. Ek hou daarvan om by die huis te wees. Ek maak huis skoon. Ek is baie huislik,'’ sê Kaganof droogweg.
Maar as deel van sy navorsing het hy baie tyd in kroeë en biljartsale deurgebring saam met mense soos die karakters in die boek. Die hoofkarakter, Red, is ‘n ankerlose man van Kaapstad wat op 36 nog by sy tante bly. Sy beste vriend is ‘n neo-Nazi wat sy argwaan op swart mense uithaal en sy meisie, Spacey, drink te veel en gebruik dwelms.
“Ek was baie verlig toe ek uiteindelik kon terugkeer na my gewone huislike omgewing,'’ sê Kaganof.
Dis ‘n nihilistiese verhaal wat nie veel hoop laat vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap nie, met taal wat as haatspraak beskou sal word.
“Daar is ‘n moontlikheid dat die boek in die hande van ‘n ongesofistikeerde regse leser kan beland wat dit kan gebruik om sy eie agenda te bevorder,'’ sê Kaganof. “Maar die boek kan nie sonder die woorde bestaan nie. Die mense met wie ek uitgehang het, praat so.
“Hulle is deel van ‘n bepaalde kultuur. As skrywer wil ek die karakters se werklikheid weergee. My taak is nie om ‘n morele teks te skryf nie of om die regering se norme te bevorder nie. Ek gee vir die leser hakies wat hy kan gebruik om vir homself te dink.
“My boek is nie op die onkritiese massamark gerig nie. Wetgewing spreek nie die werklikheid aan dat daar mense is wat dié woorde gebruik nie.'’ Hy sien die boek as ‘n metafoor vir die groot groep blanke Suid-Afrikaners onder wie die mat ná 1994 uitgetrek is.
“Dis mense wat niks het nie nie die kerk, die politiek, of ‘n werk om aan vas te hou nie. Die veranderings in die land het so vinnig plaasgevind dat hulle nie kans gehad het om tot verhaal te kom nie.
“Red is een van dié mense. Hy wil nie voel nie en gebruik dwelms en alkohol om homself af te stomp. Maar jy kan nooit heeltemal afgestomp raak nie. Die woede moet uiteindelik uitkom.
“In dié subkultuur is daar nie werklike kommunikasie nie. Dis karakters wat roep om terapie.'’
Hou Kaganof van sy hoofkarakter? “Ek het empatie met hom, want hy beskik nie oor die emosionele gereedskap om die verlede of die hede te hanteer nie. Net so is duisende Suid-Afrikaners nie in staat om met die nuwe Suid-Afrika vrede te maak nie. Hulle ly aan ‘n vorm van post-traumatiese stres.'’
Hy het die gebeure in Kaapstad laat afspeel omdat hy ná jare in die buiteland met sy terugkeer gevind het dié stad het die minste van al die Suid-Afrikaanse stede verander.
“Kaapstad is amper reaksionêr. Dis ironies, want in die jare sewentig was Kaapstad aan die snykant van verandering. Dis beslis nie so interessant soos Johannesburg nie.'’
Kaganof, wat as die filmmaker Ian Kerkhof groot lof ingeoes het vir onder meer Nice to meet you, please don’t rape me, Wasted/Naar de Klote! en die dokumentêr Western 4.33, het Suid-Afrika in 1983 verlaat om diensplig te ontduik en het baie jare in Nederland deurgebring.
“My tyd in Europa het my sinies gemaak oor die konsep van ‘n nie-rassige wêreld. Wat rassisme betref, is dinge maar oral ter wêreld baie soortgelyk. Die Nederlanders was net baie goed daarmee om die swart-wit-kwessies te kamoefleer.
“Die gebeure om Pim Fortuyn en die regses is ‘n bewys daarvan. Die kultuur van weerstand wat in die jare tagtig in Nederland opvallend was, het dramaties verander.
“Dis ironies dat die Swede en die Dene, wat miljoene rande gewerp het in die stryd teen apartheid, ‘n rassistiese agenda het. Ek is in Denemarke gevloek terwyl ek met ‘n swart vriend in die straat gestap het. In Suid-Afrika is ‘n skoner en meer naakte verwoording van wat hier gebeur het. Dis waar ek wil wees.'’
Om nog romans te skryf en rolprente te maak en kunsuitstallings te hou wat die dikwels onsmaaklike waarhede van Suid-Afrika oopkloof.
this interview first appeared in dieburger




